Raadslid Schrader: ‘n Leier vir die Mense of ‘n Raadspeletjie?
HOPEFIELD – Terwyl munisipale owerhede en raadslid Miranda Schrader spog met “dienslewering” en “toewyding,” toon werklikheid in Hopefield ‘n ander prentjie. Van ‘n historiese huisie wat uitmekaar val tot kinders wat in ‘n besoedelde rivier moet swem, bly dringende gemeenskapskwessies steeds onopgelos.
‘n Geskiedkundige belofte wat steeds net woorde is
In 2024 het raadslid Schrader in ‘n WhatsApp-boodskap aan die media bevestig dat fondse ingesamel word om ‘n bruin gemeenskap se geskiedkundige huisie te herstel. Maar tot op hede is daar geen sigbare vordering nie. Hoeveel geld is ingesamel? Waar is dit nou? Die huisie verweer steeds, terwyl ‘n belangrike deel van Hopefield se geskiedenis stadig uitgewis word.
Geen swembaddens, net verbodsborde
Ná haar verkiesingsoorwinning in 2021 het Schrader ‘n vinnige besluit geneem – nie om skoner swemwater vir kinders te voorsien nie, maar om “No Swimming” borde op te rig langs die besoedelde rivier waarin bruin gemeenskap se kinders steeds in hittegolwe swem.
Wat het geword van alternatiewe oplossings soos ‘n gemeenskapswembad? Hierdie kinders verdien beter as bloot ‘n verbod sonder oplossings.
Die asbes-krisis: ‘n stil gesondheidsramp
Terwyl Hopefield ‘n ernstige behuisingsnood het, woon talle gesinne steeds in onwettige asbesstrukture – ‘n bekende gesondheidsgevaar. In plaas daarvan om ‘n oplossing vir hierdie gevaarlike situasie te bied, het 13 gesinne in 2024 onwettige uitsettingsbriewe ontvang van die Demokraties-beheerde Saldanha Bay Munisipaliteit.
Boonop is twintig gesinne selfs gevra om eienaarskap van die asbesstrukture te aanvaar – ‘n slinkse manier om die munisipaliteit vry te spreek van enige verantwoordelikheid. Waarom sou ‘n raadslid wat “die mense eerste stel” so ‘n miskenning van menswaardigheid toelaat?
Genoeg is genoeg!
Die vraag bly: Gaan die gemeenskap aanhou om hierdie verwaarlosing te aanvaar? Of gaan hulle vrae begin vra – en antwoorde eis?
Raadslid Schrader en die Saldanha Bay Munisipaliteit is welkom om ‘n reaksie op hierdie kwessies te lewer. Die mense van Hopefield wag.
#DiensleweringVirWie? #GenoegIsGenoeg #Hopefield #WeskusRealiteit #SBM