HOPEFIELD WANDERERS KRIEKETKLUB: – VERDIEN HULLE ERKENNING?
Vanjaar vier Hopefield Wanderers Krieketklub ‘n buitengewone mylpaal – 50 jaar van sport en trots vir die gemeenskap. In enige dorp of stad is ‘n sportklub se geskiedenis nie net ‘n storie oor wedstryde en oorwinnings nie, maar ‘n getuienis van samewerking, toewyding en gemeenskapsgees. Die vraag is: sal hierdie mylpaal erken word?
VAN GRONDPAAIE TOT KRIEKETGLORIE
Dit was in 1975 dat ‘n groep jong mans op Hopefield se grond- en gruispaaie krieket begin speel het. Met beperkte hulpbronne, maar ‘n groot passie vir die spel, het hulle besluit om ‘n klub te stig— ‘n klub wat vandag, ‘n halfeeu later, steeds staan. Die naam “Wanderers” was geen toeval nie. Destyds was krieket in Suid-Afrika gedomineer deur groot name uit Transvaal, en die Wanderers Krieketstadion in Johannesburg was die toonbeeld van krieketgrootsheid. Dit het die jong Hopefielders geïnspireer om hul eie pad te stap en ‘n klub te bou wat nie net ‘n naam sou dra nie, maar ‘n nalatenskap sou skep.
‘N KLUB WAT SY MERK GELAAT HET
Aanvanklik was Hopefield Wanderers ‘n Cinderella-klub, ‘n span wat nie groot erkenning gekry het nie. Maar dit het gou verander, en daarna was Wanderers vir sewe jaar die voorste krieketklub in die Weskus Krieketliga kompetisie. ‘N prestasie wat geen ander klub maklik kon oortref nie. Die spelers het enorme opofferings gemaak om hul span aan die gang te hou. Wanneer toerusting nodig was, het die manne Vrydag-aande per trein na Kaapstad gereis—nie vir ontspanning nie, maar om krieketballe, kolfhout en toerusting aan te koop. Dit is die soort toewyding wat Hopefield Wanderers laat floreer het.
DIE LEGENDES WAT NIE VERGEET MOET WORD NIE
Oor die jare het groot name by die klub verbygegaan, sommige wat ons nou moet eer as deel van hierdie 50-jarige viering:
Charl Johnson
Ronnie Louw
Hannie Carolus
Nico Louw – ‘n vurig toegewyde klubman, wat 15 jaar lank as voorsitter gedien het, en ook die geskiedenis van die klub op skrif geplaas het as ‘n vryskutverslaggewer.
Nog steeds in ons midde is manne soos Freddie Papier, Gabba Papier, Rual Makka, Willem Esau en Trevor Louw—lewende getuienisse van die klub se ryk geskiedenis.
WAAROM IS ‘N KLUB SE ERFENIS BELANGRIK?
Sportklubs is nie net oor wen of verloor nie, hulle is ook die hartklop van ‘n gemeenskap. ‘N 50-jarige bestaan is ‘n merkwaardige mylpaal wat herinneringe bring, geskiedenis vier en nuwe generasies inspireer.
Hopefield Wanderers se naam was eens sinoniem met krieketgrootsheid in die streek.
SAL HIERDIE NALATENSKAP ERKEN WORD IN SY GEMEENSKAP?
Cape Coast News sal voortgaan om hierdie storie te volg en te rapporteer oor hoe Hopefield Wanderers se goue mylpaal (hopelik) gevier gaan word.
“VERSKONING”
Cape Coast News is nou al ‘n week op die lug, maar ongelukkig het die eerste storie op hierdie platform ‘n valse inligting versprei, wat die verkeerde boodskap oorgedra het. Die artikel het beweer dat die Hopefield Rugbyklub deel gaan wees van die Saldanhabaai Paarfees Toernooi. Ek wil graag in alle erns verklaar dat dit nie die geval is nie.
Hierdie foute is nie iets wat ek ligsinnig opneem nie, en ek vra omverskoning vir die verwarring wat dit mag veroorsaak het. Ek het al meer as 30 jaar as vryskutverslaggewer gewerk, en vir verskeie media platforms geskryf, maar dit is die eerste keer in my loopbaan dat ek so ‘n verskoning moet maak vir verkeerde beriggewing.”
Ek belowe om daaraan te werk om sulke foute in die toekoms te voorkom, en ek waardeer die geduld van ons lesers terwyl ek hierdie saak regstel.
Ek sal sorg dat alle inligting in die toekoms deeglik nagegaan word, om die integriteit van Cape Coast News te verseker.