Moorreesburg, 17 Februarie 2025 – ‘N Groot polisie-teenwoordigheid was vanoggend buite die Moorreesburg Landdroshof, toe twee polisielede verskyn het op aanklagte van verkragting.
Die twee beskuldigdes het regsverteenwoordiging aangevra, en die hof het die saak tot môre uitgestel en lede bly intussen in aanhouding. Die 27-jarige klaer, ‘n vrou van Broodkraal, beweer sy is herhaaldelik deur die twee polisielede verkrag toe sy op 8 Februarie 2025 ‘n rit huis toe gesoek het.
Gemeenskap Woedend – Maar Ook Verdeeld
Buite die hof het inwoners hul woede oor die beweerde voorval uitgespreek. “Die polisie is veronderstel om ons te beskerm, nie aan te rand of te verkrag nie!” het ‘n ontstelde vrou gesê.
“As een van ons so iets gedoen het, was ons lankal in die selle. Maar omdat dit polisielede is, kry hulle spesiale behandeling!” het ‘n ander inwoner gesê. Baie inwoners vra waarom dit langer as ‘n week geneem het om die twee beskuldigdes in hegtenis te neem. “Hoekom is daar altyd ‘n verskil wanneer dit ‘n polisiebeampte is? Is die regstelsel regtig vir almal?” het ‘n inwoner gevra.
Sommige Bevraagteken Egter Die Aanklagte
Terwyl baie mense hul woede oor die polisie uitgespreek het, het ander inwoners egter die klaer se weergawe bevraagteken. “Sy beweer sy is vyf keer verkrag – is dit moontlik” het ‘n man vir Cape Coast News gevra? “Die vrou was dronk, ek dink regtig sy het die kat aan die stert beet.”
Volgens ‘n ander bron, wat verkies het om anoniem te bly, is die polisie oorspronklik uitgeroep, en kon hulle op die klaer afgekom het, ná sy reeds verkrag was. “Ek glo nie vir een oomblik dat hierdie twee lede dit gedoen het nie. Die een lid is net drie maande in die SAPD, hoekom sou hy sy loopbaan só weggooi?”
SAPD Bevestig Sake – Verwys Media na IPID
Die polisie het die saak bevestig, maar verdere navrae verwys na die Onafhanklike Polisie ondersoek direktoraat (IPID). Volgens Kolonel André Traut, Provinsiale bevelvoerder van die polisie media-kommunikasie, is ‘n verkragtingsaak geregistreer, gebaseer op die bewerings van die klaer. Hy het beklemtoon dat IPID ondersoek instel, en dat hul kommunikasie-afdeling verdere besonderhede sal kan verskaf.
Cape Coast News sal hierdie saak noukeurig dophou en verdere inligting aan die publiek bring soos dit beskikbaar raak.