MOORRREESBURG:- Die gemeenskap van Moorreesburg is verdeeld ná twee polisielede sonder enige voorwaardes op borgtog vrygelaat is, ondanks die erns van die klag teen hulle.
Die twee beskuldigdes, wat vir die beweerde verkragting van ’n 27-jarige Zimbabwe-vrou in hegtenis geneem is, was vir meer as twee weke in aanhouding.
Die borgtog-uitspraak kom te midde van ’n petisie met meer as 900 handtekeninge, wat glo die vrylating van die beskuldigdes ondersteun het. Hierdie saak het verdere verdeeldheid in die gemeenskap veroorsaak, veral ná die openlike ondersteuning van Patrick van der Vent, voorsitter van Swartland Munisipaliteit se “Gender-Based Violence for Women and Children” organisasie.
“Hoe kan jy ’n organisasie vir geweld teen vroue lei, maar terselfdertyd diegene ondersteun wat vir verkragting aangekla is?” het een woedende vrou gevra.
Terselfdertyd meen ander inwoners dat daar te vinnig vinger gewys word, aangesien die ondersoek nog aan die gang is.
Bronwin Adonis: “Wat as dit my dogters was?”
Bronwin Adonis, ’n gemeenskapswerker van Rosenhof, het sy steun aan die klaer uitgespreek, ongeag die kritiek wat hy daarvoor ontvang.
“Mense kan sê wat hulle wil oor my, maar ek staan by my woorde – nie een van ons weet wat regtig gebeur het nie. Hoe kan ons dan net die beskuldigdes onskuldig verklaar sonder bewyse?”
Adonis het verder gesê dat hy as ’n pa van meisiekinders nie net kan wegkyk nie. “Wat as dit my dogters was, of enige ander vrou in hierdie gemeenskap? Ek ondersteun die slagoffer, want ons moet almal vir geregtigheid veg, ongeag wie die beskuldigdes is.”
Die hof het die saak tot 17 April uitgestel vir verdere ondersoek, en die uitslae van DNA-toetse is steeds uitstaande.
Wat sê die wet oor borgtog in verkragtingsake?
Volgens Suid-Afrika se Strafproseswet 51 van 1977 word verkragting as ’n ernstige misdaad beskou. Gewoonlik word borgtog nie maklik toegestaan nie, en in baie gevalle moet beskuldigdes bewys dat:
- Hulle nie ’n vlugrisiko inhou nie,
- Hulle nie die klaer of gemeenskap in gevaar stel nie,
- Hulle nie die ondersoek sal beïnvloed nie.
In hierdie geval is die polisielede sonder enige voorwaardes vrygelaat – wat ongewoon is vir ’n verkragtingsaak. Daar is drie moontlike redes waarom die hof hierdie besluit geneem het:
- Nie genoeg bewyse vir aanhouding: Die hof het dalk gevoel dat die staat nog nie ’n sterk saak het nie.
- Petisie en gemeenskapsdruk: Meer as 900 mense het die petisie onderteken, wat dalk die hof se besluit indirek beïnvloed het.
- Die beskuldigdes se status as polisiebeamptes: Dit is moontlik dat hul rol as lede van die wetstoepassing in ag geneem is tydens die borgtogaansoek.
Nog ’n kwessie wat inwoners bekommer, is dat slegs familielede in die hof toegelaat is tydens die borgtogaansoek. Gewoonlik is sulke verhore oop vir die publiek, tensy daar ’n spesiale hofbevel is. Dit laat vrae oor die deursigtigheid van die proses.
Gemeenskap bly verdeeld
Sommige inwoners meen dat die beskuldigdes die voordeel van die twyfel moet kry totdat alle bewyse aangebied is. Ander glo weer dat die hof te maklik toegelaat het dat hulle vrygelaat word sonder dat die klaer se veiligheid verseker is.
“Apartheid sal nooit verdwyn in hierdie land nie,” het een swart inwoner sy ontevredenheid uitgespreek. “Môre word ’n vrou van die bruin gemeenskap deur ’n swartman verkrag, dan skree dieselfde mense vir ‘justice’.” Hierdie woorde weerspieël die diep rassespanning en verdeeldheid wat hierdie saak in die gemeenskap blootgelê het.
Vir nou wag almal op die 17 April hofverskyning, waar die ondersoek se vordering bepaal sal word. Tot dan bly die gemeenskap in onsekerheid oor wat werklik gebeur het en of geregtigheid vir beide partye sal geskied.